|

AfriForum se Kempton Park-tak loods mobiele gesondheidsentrum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy mobiele gesondheidsentrum in Kempton Park aan die Oos-Rand bekend gestel.

Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak, sê die idee is om solank basiese dienste aan behoeftige en bejaarde mense in die gemeenskap te verskaf. “Ons susters gaan aan die begin solank by ouetehuise inskakel om byvoorbeeld bloeddruk te meet, cholesterol te toets en bloedglukose na te gaan. Hulle kan dan ook verwysings maak na dokters as deel van ’n breër gesondheidsnetwerk.

“Voorts gaan daar mettertyd nóg dienste bygevoeg word soos ons vermoë groei. Aanvanklik wil ons fokus om voorkomend op te tree.”

Volgens dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake, sê die idee vir die kliniek het weens COVID-19 ontstaan. “Ons besef al vir ’n geruime tyd dat die staat se dienste onvoldoende is om mense se gesondheidsbehoeftes aan te pak. Daarenteen is die privaat sektor heelwat beter, maar onbekostigbaar vir meeste mense. COVID-19 en die gebreke in die gesondheidstelsel wat dit beklemtoon het, het ons genoop om nuwe planne te begin maak en te implementeer.

“’n Belangrike deel van die oplossing is dat gemeenskappe self begin verantwoordelikheid neem vir hul gesondheid, nes met veiligheid en ander dienslewering. Hierdie sentrum is ’n eerste, maar belangrike stap in hierdie rigting in Kempton Park. Dit sal ’n suksesresep word vir ander gemeenskappe om ook op ’n innoverende wyse na hul gesondheid om te sien.”

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sê die sentrum is ’n beweeglike en gerieflike manier om die gemeenskap te bedien. “Dit is ook ’n volhoubare projek wat van nou af danksy vrywilligers, die tak, die gemeenskap en ander rolspelers ’n groeiende verskil in die lewens van gemeenskappe kan maak.”

Brink voeg by dat daar deur middel van die kliniek holisties na mense se gesondheid gekyk sal word. “COVID-19 is nie die enigste pandemie van ons tyd nie, maar ook eensaamheid, wanhoop en emosionele pyn. Daar is ’n bewese skakel tussen mense se geestesgesondheid en fisiese welstand, en dit is baie makliker en beter om voorkomend as genesend op te tree. Ons wil derhalwe ’n oor word wat luister, asook ’n mond wat bemoedig en opbou.”

Ter afsluiting moedig Brink alle rolspelers en veral medici in Kempton Park aan om deel te raak van hierdie inisiatief.

Soortgelyke plasings