|

AfriForum se Klerksdorp-tak en inwoners vul slaggate

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 22 Januarie 2022 slaggate in Klerksdorp gevul en terselfdertyd ook met ’n veldtog begin om 1 000 sakkies teer in te samel om slaggate in die dorp op te vul. Omdat die AfriForum-tak nie alleen al die slaggate sal kan vul nie, is die hulp van inwoners, asook die buurtwagte wat reeds georganiseerde groepe is, ingeroep.

Die reaksie was oorweldigend, wat aantoon hoe keelvol inwoners is vir die uiters swak bestuur van die stad. Die afgelope Saterdag is slaggate gevul in vier woonbuurte, Doringkruin, Meiringspark, Neserhof en Songloed, asook by die Monicastraatkruising en in Buffeldoornweg.

In Buffeldoornweg is 100 gate met 145 sakkies teer gevul. Een slaggat was so groot dat dit 20 sakkies geneem het om te vul. 25 sakkies teer is gebruik om die gevaarlike slaggate in Murantieweg te herstel en in Meiringspark het die span met 40 sakkies teer 32 gate gevul in Jan Parliament-, Neeltjie-, Wesselsstraat se dienspad en waar Freeman- en Scheepersstraat kruis. In Songloed is 90 sakke teer in Poplarstraat gebruik en agt sakke by Oosthuizenstraat se hobbel. 60 sakkies teer is in Neserhof gebruik om 35 gate te vul.

“Sover is 360 sakkies teer geskenk en gebruik om slaggate te vul. Dié getal sluit nie die teer in waar ander organisasie en inwoners op eie inisiatief slaggate herstel het nie. Wat wel seker is, is dat motoriste nou die paaie, waar herstelwerk gedoen is, veilig kan gebruik,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum se Klerksdorp-tak wil almal – lede, organisasie, sakeondernemings en inwoners – wat by die projek betrokke was, bedank vir hul bydraes. Sonder ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het nie, sê Frans Roos, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak. “Ons het met dié aksie nie net slaggate gevul nie, ons het ook mense se harte met hoop gevul.”

Organisasies, sakeondernemings en inwoners wat wil deelneem aan “My woongebied”, ’n buurtvernuwingsprojek wat ten doel het om die verval in woongebiede te stuit en te verbeter, kan vir Roos skakel by 083 378 8826.

Sluit vandag nog aan by AfriForum en word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings