| |

AfriForum se Klerksdorp-tak skenk handreiniger en maskers aan Panorama Park Aftreedorp

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het verlede week handreiniger en maskers vir die Panorama Park Aftreedorp geskenk om die veiligheid van die inwoners en personeel te verseker. ’n Inwoner van dié aftreedorp het die voorraad versoek en die plaaslike AfriForum-tak het besluit om die skenking aan die ongeveer 200 inwoners en 30 verswaktes te maak.

Volgens Frans Roos, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, het die COVID-19-krisis tehuise vir bejaardes en diensorganisasies onkant gevang en was hulle nie voorbereid op die toename in gebruik van mediese voorraad nie. Die personeel van die instansies wat gesigsmaskers en handreinigingsmiddel ontvang het, is daarom baie dankbaar vir die bydrae wat AfriForum aan hulle geskenk het.

“Dit is ‘n voorreg dat ons die dorp se bejaardes in hierdie tyd kan ondersteun, want hulle is vir ons belangrik. Ons het ook groot waardering vir die personeel wat na hulle omsien – daarom het ons graag die skenking gemaak om ook hulle veiligheid te verseker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Soortgelyke plasings