AfriForum se Komtiekie-plaaswag fnuik misdaad


Die Komtiekie-plaaswag, wat deel van AfriForum se Vryburg-buurtwag is, het gisternag (24 Maart 2019) ’n misdaad in dié omgewing gefnuik. Tydens ’n patrollie het lede van dié plaaswag agt mense wat in ’n veld gelê het, opgemerk. Die verdagtes het gevlug toe hulle besef hulle is gewaar en het alarm gemaak. ’n Bakkie het die verdagtes, wat almal gewapen was, opgelaai en weggejaag. Lede van die buurtwag het die bakkie vir ongeveer 80 km agtervolg, waarna hulle in ’n informele nedersetting sig van die bakkie verloor het.

Die verdagte bakkie is later weer in dieselfde gebied opgemerk en die Vryburg-polisie is na die toneel ontbied. Vryburg se protospan is ook op bystand geplaas. Net twee van die verdagtes was in die bakkie en is na die polisiestasie geneem. Die wapens in hul besit was wel gelisensieer en hulle is vrygelaat.

“Die feit dat die verdagtes in die veld gelê en weggehardloop het, is ’n gewisse teken dat hulle een of ander misdaad beplan het. Die gebied gaan swaar onder veediefstal gebuk – beeste word van die teerpad af doodgeskiet en op die plek geslag of vinnig opgelaai. Dit is verblydend dat die buurtwaglede so vinnig kon optree en dat die SAPD in Vryburg ook dadelik bystand kon bied. Dié buurtwag bly toenemend ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat besef dat hulle self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid en besittings moet neem,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings