|

AfriForum se Krugersdorp-buurtwag spoor vermiste persone op  

AfriForum se Krugersdorp-buurtwag het in Augustus gehelp om 3 vermiste persone suksesvol op te spoor.

Suzette de Klerk, wat op 28 Augustus om 05:17 die oggend haar kompleks in Featherbrook verlaat het, is na ’n ure lange soektog gevind. AfriForum se buurtwag is geskakel en hul het die nodige prosedures en protokol gevolg om haar op te spoor.

Ronel Oosthuizen, woordvoerder vir die De Klerk-familie, het almal wat aan die soektog deelgeneem het in ’n stemboodskap bedank vir hul bystand en deursettingsvermoë.

In twee ander gevalle op 2 Augustus en 10 Augustus het die AfriForum-buurtwag ook bystand verleen om Richard Brengosz, ’n 82-jarige Alzheimerlyer, op te spoor na hy sy woning in Muldersdrift verlaat het; hy is in Ventersdorp opgespoor. Bianca Ernst is ook as vermis aangemeld en later opgespoor.

Die AfriForum-plaaswaglede het fondse ingesamel om ’n GPS-horlosie vir mnr. Brengosz aan te skaf om te verseker dat sy gesin hom spoedig kan opspoor sou so iets weer in die toekoms gebeur.

“Hierdie suksesse sou nie moontlik gewees het sonder die positiewe verhoudings tussen die verskeie gemeenskapsveiligheidstrukture in Krugersdorp nie. AfriForum is dankbaar om deel te wees van ’n gemeenskap wat saam staan veral wanneer dit kom by ons gemeenskapslede en hulle geliefdes se veiligheid,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek

Die Krugersdorp-buurtwag wil die volgende entiteite bedank vir hul bystand: BCI Sekuriteit, Muldersdrift GPF, Krugersdorp GPF Sektor 7, Fidelity ADT en DTRON Sekuriteit.

Ungerer moedig lede van die publiek aan om by veiligheidstrukture of organisasies in hul gemeenskappe betrokke te raak.

SMS “Krugersdorp” na 45341 (R1) om by jou plaaslike buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings