| |

AfriForum se Krugersdorp-tak is deel van die oplossing

Die AfriForum-tak in Krugersdorp het met verskeie plaaslike ondernemings en organisasies hande gevat om verligting te bring vir inwoners wat in nood verkeer tydens die staat van inperking.

Dié voedselprojek is op 3 April 2020 deur AfriForum se Krugersdorp-tak, ToyotaFanatics, Solidariteit Helpende Hand, Apcan Sekuriteit en die Laerskool Kenmare van stapel gestuur. Sedertdien is ongeveer 500 kg se vars groente en kos as skenkings ontvang. Bogenoemde groep behartig die ontvangs van skenkings en donasies, aankope van voedsel en om die kospakkies te versprei. Helpende Hand het 145 piesangbrode gebak en tien potte sampioensop gekook. Altesaam 24 families is daarmee gevoer – 57 volwassenes en 27 kinders.

Die voedselprojek ontvang daagliks kos en donasies om nóg families te voer en kan tans die families wat ondersteun word vir tien dae onderhou. Hierdie ongelooflike groep het ook ’n skenking aan die Laerskool Kenmare se broodjieprojek gemaak om te verseker dat ’n verdere 13 gesinne in nood gehelp kan word.

“AfriForum is dankbaar vir die geleentheid om saam met al die genoemde rolspelers hande te vat om ’n verskil in die Krugersdorp-gemeenskap te maak. Dit is weer eens ’n skitterende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer ons saamwerk,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Soortgelyke plasings