AfriForum se Kuruman-buurtwag help om brand te blus

 

AfriForum se Kuruman-buurtwag het op 16 September 2018 in samewerking met die Ga‑Segonyana Plaaslike Munisipaliteit en die streeksdiensteraad ’n veldbrand by ʼn wildskamp geblus.
Dié brand het vermoedelik in die wildskamp ontstaan en daarna na die perdeklub versprei, asook na die gronde van die plaaslike tak van Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV). Die oorsaak van die brand is steeds onbekend.

“Goed georganiseerde veiligheidstrukture het ons lede in staat gestel om vinnig op te tree. Dít is waarom dit belangrik is dat gemeenskapslede by veiligheidstrukture betrokke raak – ook om goeie kontak met ander gemeenskapsinstellings te hê,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari-distrik.
“Dit was wonderlik om te sien hoe mense van die dorp hulp aangebied het, al was dit net om koue water en ys vir die brandbestryders te bring. Ons wil elke persoon bedank wat hul kosbare tyd opoffer om ons dorp veilig te hou,” sê Louw.

Raak vandag betrokke by jou plaaslike veiligheidstruktuur deur “veiligheid” te SMS na 32532.

Soortgelyke plasings