|

AfriForum se Laeveld-buurtwagte ontvang opleiding in brandbestryding

Die AfriForum-buurtwagte in die Laeveld het die afgelope naweek opleiding in brandbestryding ontvang.

Forum Sekuriteit het die opleiding aan 12 buurtwaglede by die Rockview Lodge buite Nelspruit aangebied. Die doel van die opleiding was om buurtwaglede met teoretiese en praktiese kennis toe te rus om korrek en doeltreffend op te tree in noodsituasies. Gedurende die opleiding is daar ’n brand gestig wat die lede moes blus om die gevare van ’n noodsituasie te kan identifiseer. Daar is veral aandag geskenk aan veldbrande en bosbrande, aangesien dit die mees algemene brande is wat in die Laeveld voorkom en waar buurtwaglede hulp aanbied.

“Dit is uiters belangrik om seker te maak dat ons buurtwaglede toegerus is met die regte kennis en hulpbronne om sodoende doeltreffend op noodsituasies te kan reageer. Dit is vir ons as AfriForum ’n voorreg om ons buurtwaglede by te staan met hierdie tipe opleiding, aangesien hierdie kennis ’n positiewe invloed in ons plaaslike gemeenskappe het,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Laeveld.

“Dit was ’n voorreg om hierdie opleiding te kon bywoon, aangesien ons kennis opgebou het wat ons prakties in die toekoms kan toepas, sou ons op ’n brandnoodgeval moet reageer. Ek sal mense aanraai om betrokke te raak by hul plaaslike AfriForum-buurtwag omdat ons aan ’n struktuur behoort en gereeld opleiding ontvang,” sê Theo Bezuidenhout, ’n lid van AfriForum se Witrivier-buurtwag.

AfriForum se buurtwagte in die Laeveld nooi graag die publiek uit om deel te word van ons plaaslike buurtwagte: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings