|

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag blus brand

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag in Bloemfontein het hul nuwe waterkar ingespan om op 9 Augustus 2020 in samewerking met die Mangaung-brandweer ’n brand naby ’n motorhandelaar en die R64 te help blus. Die buurtwag het die waterkar aangeskaf om die verspreiding van veldbrande te help voorkom.

Hulle spog ook met twee nuwe grassnyers en drie bossiekappers wat reeds gebruik is om parke en velde in stand te hou daar waar die munisipaliteit hul plig versuim.

“Die waterkar stel die buurtwag se reaksiespan in staat om brande onder beheer te bring totdat die nodige owerhede op die toneel is en in sommige gevalle kan ons dan self hierdie brande blus,” sê Heinrich Meyer, voorsitter van AfriForum se Langenhovenpark-tak.

Volgens Meyer het die waterkar en die ekstra watertenk ’n 2 000 liter kapasiteit en is dit veeldoelig aangesien dit ook as ’n mobiele noodwaterpunt gebruik kan word wanneer Langenhovenpark ’n waternood ervaar. “Die punte waar water getap kan word, is deur verskeie taklede beskikbaar gemaak waaroor ons baie dankbaar is.”

Die Langenhovenpark-tak wil graag elke lid bedank vir hulle maandelikse bydrae wat die tak in staat stel om hierdie toerusting aan te skaf. “Ons gaan almal se hulp benodig tydens die skoonmaakprojekte. Die tak doen ’n groot beroep op elke inwoner in Langenhovenpark om nie hul vullissakke en tuinvullis in die velde te stort nie,” sê Meyer.

“Die aankoop van hierdie toerusting bemagtig die Langenhovenpark-tak om die buurt ’n netjiese en veilige plek vir die gemeenskap en AfriForum-lede te maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Inwoners wat graag deel van skoonmaakprojekte wil word, kan gerus vir Tobie Fourie, omgewingsakevoorsitter van AfriForum se Langenhovenpark-tak, skakel by 073 196 8887.

Raak vandag nog by die AfriForum-takke in Bloemfontein betrokke: SMS “AfriForum” na 45266 (R1).

Soortgelyke plasings