|

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag neem deel aan operasie saam met SAPD

Die AfriForum-tak in Bloemfontein se Langenhovenpark-buurtwag en die Langenhovenpark/Bainsvlei GPF het in die vroeë oggendure op 6 Mei aan ’n SAPD-gedrewe operasie deelgeneem wat gefokus het op onwettige plakkers en bosslapers in Langenhovenpark.

38 persone is deur die SAPD in hegtenis geneem en ondervra om moonthlike betrokkenheid by misdade in die omgewing uit te skakel. Daar is ook beslag gelê op ’n groot aantal wapens en gereedskap wat gebruik word tydens inbrake. Die hoop is dat hierdie operasie sal help om misdaad in die omgewing te verminder.

Die sukses van die operasie kan toegeskryf word aan die SAPD wat verskeie eenhede en ’n groot getal lede beskikbaar gestel het hiervoor asook die samewerking met plaaslike veiligheidstrukture. Lede van die Bainsvlei-, Openbare Orde-, Taktiese Reaksie- en Honde- eenhede het deelgeneem. Daarmee tesame het die AfriForum Bloemfontein Lugvleuel se hommeltuig ook ’n groot bydrae gelewer om verdagtes in die donker te identifiseer en op te spoor.

“AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag spreek sy dank uit aan die Suid-Afrikaanse Polisie Diens sowel as elke AfriForum-buurtwag-lid en lede van die Gemeenskap Polisiëring Forum vir die reusesukses tydens hierdie operasie. AfriForum se buurtwagte streef om die veiligheid van die gemeenskappe te bevorder.  Met goeie samewerking met die SAPD sowel as verskeie buurtwagstrukture kan misdaad in ons omgewing bekamp word. Hierdie sukses is ook te danke aan die AfriForum hommeltuigvlieëniers wat tydens die operasie die buurtwagte se oë in die lug was en die lede met intydse inligting kon voorsien,” sê Christo Groenewald, AfriForum distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum tak, SMS “AfriForum” na 45344 (R1)

Soortgelyke plasings