|

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag trek kabeldiewe vas

Die AfriForum-buurtwag in Langenhovenpark, Bloemfontein, het op 16 Februarie 2022 vermeende kabeldiewe vasgetrek en gearresteer.

Dit volg nadat die Langenhovenpark-buurtwag op CAM Security se versoek via die buurtwag se WhatsApp-noodgroep gereageer het. CAM-Security is deel van die AfriForum in Bloemfontein se radio- en sekuriteitsnetwerk vir bystand. Volgens die inligting was ses verdagtes besig om ondergrondse hoogspanningskabels oop te grawe en af te sny. Die buurtwag se patrolleerders en hul reaksiespan het hul na die area waar die misdaad plaasgevind het, gehaas. Ekstra hulp is ook versoek en lede in die omliggende buurte het verdere hulp gaan verleen. Alle lede is strategies geplaas om die misdadigers op die verskeie roetes te kan aankeer. Met ’n area van 360 ha is ’n hommeltuig ook ingespan om hulp te verleen sodat die verdagtes aangekeer kon word.

30 buurtwaglede het op die voorval gereageer, asook CAM Security, VR-Security, Centlec/Mangaung Beskermingsdienste, Fidelity ADT en heelwat SAPD-voertuie.

Die buurtwag en sekuriteitsdienste het vier verdagtes met al die nodige toerusting om kabels te kan uitgrawe in hul besit, aangekeer. Die vyfde verdagte is heelwat later vasgetrek, maar die sesde verdagte is steeds op vrye voet. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig en ’n saak van beskadiging aan infrastruktuur is aanhangig gemaak.

Verskeie kabeldiefstal lei tot grootskaalse kragonderbrekings en ontwrigting in verskeie woonbuurte. AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag het reeds hoë risiko areas geïdentifiseer wat die patrolleerders en reaksiespan gereeld moniteer.

“AfriForum se buurtwagte in Bloemfontein reageer gereeld op verskeie probleme in hul omgewings. Ons eersteklastoerusting soos die hommeltuig en radionetwerk stel ons in staat om misdaad doeltreffend te kan bekamp. Ons het ’n groot radionetwerk en goeie samewerkingsooreenkomste tussen die nege AfriForum-buurtwagte en die verskeie sekuriteitsmaatskappy, die polisie en nood mediese dienste,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

“Die samewerking tussen die verskillende veiligheidsinstansies in ons strukture en hulle samewerking met die SAPD is werklik verblydend. Ek het groot waardering vir die werk wat die buurtwagte doen. Samewerking is die enigste manier waarop misdaad doeltreffend bekamp kan word,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

AfriForum se buurtwagte is toegewyd om veilige woonbuurte te verseker en moedig die publiek aan om deel te raak van die dinamiese spanne om misdaad te bekamp. SMS “Buurtwag” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings