|

AfriForum se Lichtenburg-tak en ondernemings skenk kos aan hart-en-handeprojek

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het op 4 September in samewerking met Noordwes Koöperasie (NWK) en Shukran Furniture ongeveer 1 ton noodsaaklike voedsel ter waarde van R15 000 aan die Hoërskool Lichtenburg se hart-en-handeprojek geskenk. Die hart-en-handeprojek ondersteun behoeftige gesinne in dié dorp.

“Ons het saam met NWK en Shukran Furniture gewerk om die nood wat ontstaan het as gevolg van die COVID-19-pandemie te help verlig. Die inperkingstyd het langtermyngevolge op die finansiële welstand van ons gemeenskap omdat mense hul werke verloor het of verminderde salarisse verdien,” sê Stefan Niemand, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

“Ons is baie dankbaar dat ons so baie van die behoeftige mense in ons gemeenskap met voedsel kan ondersteun. Dit word slegs moontlik gemaak deur skenkings en ledegeld. Ons wil daarom werklik ’n spesiale woord van dank aan Shukran Furniture, NWK en elke lid van die gemeenskap rig wat tot dusver skenkings gemaak het. Die voedsel wat reeds uitgedeel is, is ’n bewys dat die fondse doeltreffend aangewend word om die nood in die gemeenskap te verlig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by AfriForum se Lichtenburg-tak betrokke te raak sodat soortgelyke projekte aangepak kan word: SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings