| |

AFRIFORUM SE LIMPOPO-BUURTWAGTE NEEM DEEL AAN NASIONALE PATROLLIE

AfriForum se buurtwagte in Limpopo het oor die afgelope naweek deelgeneem aan ’n nasionale patrollie.

Op 12 Maart het AfriForum se buurtwagte in dié provinsie deelgeneem aan ’n landswye operasie om verhoogde sigbaarheid te handhaaf en funksionaliteit van nasionale kommunikasienetwerke en sinkronisasie te toets. Die buurtwagte het ook saam met ander veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die polisie gewerk.

Altesaam 228 buurtwaglede het deelgeneem en 130 voertuie van buurtwaglede en ander instansies het 9 058 km afgelê tussen 18:00 Vrydagaand en 06:00 Saterdagoggend. Tydens die operasie is ondersteuning gebied gedurende gevalle van huisbraak en poging tot huisbraak. Daar was ook ’n poging tot voertuigdiefstal wat in samewerking met die polisie voorkom is. Buurtwaglede het in samewerking met die Heritage Protection Group die herwinning van vermoedelik gesteelde koperkabels gefnuik.

Die hoofdoel was egter om sigbaarheid van parate gemeenskappe te vestig. Die glimbaadjies, voertuigmagnete, voertuigdakligte en flitse wat die strate belig het, het gesorg dat hierdie doelwit bereik is. Daar was ook deurentyd nasionaal sinkronisasie en skakeling met al AfriForum se buurtwagte wat landswyd aan die operasie deelgeneem het deur AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Alle buurtwaglede in Limpopo kon deur die Limpopo Operasionele Telegram-groep die presiese ligging sien van alle ander buurtwaglede in Limpopo wat deelgeneem het.

Andries Opperman, veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die buurtwaglede bedank vir hulle onbaatsugtige diens. “Ons sien hierdeur hoe gemeenskappe professioneel en gedissiplineerd, binne die raamwerk van die wet, eienaarskap neem van hulle eie veiligheid en doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om daardeur hulle voorspoedige voortbestaan te verseker. Ons belangrikste wapen is ons glimbaadjies en skakeling en sinkronisasie op ’n nasionale vlak. Misdadigers onttrek hulself van ’n gemeenskap wat sigbaar paraat is en met mekaar saamwerk.”

Om by AfriForum se veiligheidstrukture in Limpopo aan te sluit, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings