| |

AFRIFORUM SE LIMPOPO-BUURTWAGTE VERHOOG SIGBAARHEID VIR KOMENDE FEESSEISOEN

AfriForum het op 1 November ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Hierdie sigbaarheidsprojek sal tot 15 Januarie 2021 voortduur. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem, daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

“Die sigbaarheid van buurtwaglede verhoed misdaad. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede. Ons moedig buurtwaglede aan om binne die struktuur wat daargestel is, gedissiplineerd, binne die raamwerk van die wet, verantwoordelikheid te neem vir hulle eie gemeenskap se veiligheid. Die laakbare aanslag van misdadigers word teengestaan deur ’n georganiseerde gemeenskap” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

“Niemand leef meer onder die illusie dat die staat ons sal veilig hou nie. Deur ’n netwerk van samewerking te skep, kan ons egter self hierdie taak verrig. Daar gaan nie ’n dag verby wat AfriForum se Marble Hall-buurtwag nie sigbaar is in ons strate nie. Daar sal oor die vakansietydperk des te meer op hierdie taak gefokus word,” sê JP Otto, voorsitter van AfriForum se Marble Hall-buurtwag.

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Limpopo, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings