|

AFRIFORUM SE LUGSTEUNEENHEID BY GARIEPDAM VIR LIGTEVLIEGTUIG-SAAMTREK

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se lugsteuneenheid is uitgenooi om vanjaar by die North Meets South-saamtrek vir LS1 ligtevliegtuie by die Gariepdam ’n voorlegging en hommeltuigdemonstrasie te doen.

Dit word van vandag tot Sondag aangebied. “Dis ’n wonderlike geleentheid vir ons om meer vlieëniers by die lugsteuneenheid te betrek,” sê Deon Steyn, AfriForum se bestuurder van die lugsteuneenheid.

Volgens hom is hulle genooi om ’n 20-minute voorlegging te doen asook twee hommeltuigdemonstrasies te lewer. Een hiervan is in die dag en die ander in die aand. “Die voordeel van die soort vliegtuie wat by die saamtrek sal wees, is dat die eienaars dit self kan onderhou, mits dit nie kommersieel aangewend word nie. Voorts vlieg hullle op gewone motorbrandstof en gebruik hulle ook aansienlik minder brandstof as ’n tradisionele ligtevliegtuig,” verduidelik Steyn.

Dis die derde North Meets South-saamtrek wat sedert 2010 aangebied word. Tommie Jordaan, die organiseerder en ’n boer van Zastron, vlieg al sedert 1996. “Ek en my vriend Weidie Vorster het by geleentheid by die Gariepdam geland en gedink ons moet ’n geleentheid vir mense met ligtevliegtuie hier hou. Die dam is sentraal en maak dit maklik vir almal om die geleentheid by te woon.

“Gewoonlik vlieg almal reeds Vrydagmiddag in en ons braai lekker die aand. Allerlei gyrocopters en ander vliegtuie insluitend Xenon, Magni en Sling word verwag. Saterdagoggend vlieg ons om die dam, terwyl daar ook stalletjies en ’n ete sal wees. Saterdagaand word belangrike besluite oor veiligheid geneem en Sondag vlieg almal weer huis toe.”

Sowat honderd vliegtuie en dubbel soveel gaste uit vier provinsies word by die saamtrek verwag. Die publiek is welkom om dit gratis by te woon.

Steyn sal saam met ’n paar ander AfriForum-personeellede die geleentheid bywoon. “Gemeet aan die boodskappe op die Whatsapp-groep lyk dit vir my of daar groot opgewondenheid oor die saamtrek heers. Ons hoop dat baie van die vlieëniers wat die geleentheid bywoon, by AfriForum se lugsteuneenheid sal inskakel. Hulle sal sodoende hulp aan AfriForum se onderskeie buurt- en plaaswagte kan verleen,” sê hy.

Soortgelyke plasings