| | |

AfriForum se Matzikama-plaaswagte neem aan nasionale versetpatrollie deel

AfriForum se Matzikama-plaaswagte in Koekenaap, Kleinrivier, Trawal en Nuwerus het op 6 Junie 2020 aan AfriForum se nasionale versetpatrollie deelgeneem. Dié versetpatrollie vorm deel van die amptelike aktivering van AfriForum se buurt- en plaaswagte wat hul bedrywighede weer tydens vlak 3 van die inperking mag hervat.

Altesaam 83 AfriForum-lede het in 58 voertuie aan die patrollie deelgeneem. Die lede het 1 315 km in die gebied afgelê en vyf voorvalle suksesvol hanteer. Al die deelnemers het streng voldoen aan die vereiste regulasies en binne die raamwerk van die wet opgetree.

Vlak 3-regulasies bepaal dat enigiemand hul huis mag verlaat om ’n spesifieke diens te lewer, behalwe aktiwiteite wat pertinent uitgesluit is soos uiteengesit in tabel 2 van dié regulasies. Dié patrollie het daartoe gelei dat lt.genl. Fannie Masemola, Adjunkkommissaris van Polisiëring, AfriForum se interpretasie van die regulasies kon insien en hy ’n skrywe hieroor aan alle provinsiale en eenheidskommissarisse gestuur het.

Die burgerregteorganisasie was, nadat vlak 3-regulasies in werking getree het, van mening dat dié regulasies nie die bedrywighede van buurt-, hoewe- en plaaswagte uitsluit nie. AfriForum was so oortuig dat dié interpretasie korrek is, dat hulle onderneem het om enige buurt-, hoewe- en plaaswag met regshulp by te staan indien een van dié wagte se lede in hegtenis geneem word bloot omdat die lede hul onderskeie gemeenskappe beveilig.

“Die versetpatrollie was ’n groot sukses danksy goeie samewerking tussen al die betrokke persone en dit is lekker om weer terug op die pad te wees om ons gemeenskappe te beveilig,” sê Wilco Engelbrecht, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Vredendal-tak.

“Die veiligheidstrukture in die Matzikama-streek was baie opgewonde om weer te begin patrolleer om sodoende weer ’n aktiewe rol te speel in misdaadvoorkoming,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak vandag nog by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings