AfriForum se Matzikama-tak skep hoop tydens boomplantmaand


AfriForum se Matzikama-tak het in September 30 bome as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantprojek geplant.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant. “Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer, en die AfriForum-tak in Matzikama onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en ware hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings