| |

AFRIFORUM SE MESSINA-BUURTWAG HELP OM SMOKKELAARS VAS TE TREK

Die AfriForum-buurtwag in Messina het op 11 Augustus 2021 beslag gelê op gesmokkelde sigarette met ’n straatwaarde van sowat R676 000. Dít volg nadat die buurtwag sedert Maandagaand 9 Augustus saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gewerk het om ’n operasie van stapel te stuur om die smokkelaars vas te trek.

Dié operasie is op ’n plaas in die omgewing uitgevoer wat vyf welbekende roetes het wat deur smokkelaars benut word. Die eerste twee aande het geen vrugte afgewerp nie, maar teen 22:30 op die derde aand het die smokkelaars hulself teen buurtwaglede vasgeloop. Die smokkelaars is versoek om hulself oor te gee, maar het te voet gevlug en die gesmokkelde goedere agtergelaat. Die smokkelaars is egter nog op vrye voet.

“Hierdie operasie wys weer eens hoe belangrik gedissiplineerde, inligtinggedrewe optrede deur gemeenskapslede is in situasies soos dié. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om op Telegram by ons buurtwaggroep aan te sluit en inligting daar te deel met betrekking tot verdagte aktiwiteite. Ek wil ook graag die buurtwaglede bedank wat sonder huiwering hulle tyd opoffer om te help om die gemeenskap veilig te hou; hulle harde werk maak ’n groot verskil,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Soortgelyke plasings