AfriForum se Meyerspark-buurtwag help om misdaad hok te slaan


AfriForum se buurtwag in Meyerspark, Pretoria, het die afgelope naweek twee afsonderlike operasies uitgevoer in samewerking met die Silverton-SAPD, asook sekuriteitsmaatskappye en ander plaaslike buurtwagte.
Die hooffokus van die eerste operasie was om sjebiens te identifiseer en drank te konfiskeer wat vir onwettige verkope beskikbaar was. Weens tydsbeperkinge kon daar net by een plek opgetree word, maar die SAPD het AfriForum se buurtwag nietemin bedank vir die hulp wat verleen is en tot arrestasies gelei het.
Vyftien Meyerspark-buurtwaglede het ook suksesvol aan die tweede operasie deelgeneem om onwettige sluipslapers uit die gebied te verwyder.

“Ek bedank graag ons lede vir hul onbaatsugtige bereidwilligheid om die gemeenskap by te staan. Hierdie was ’n groot sukses vir AfriForum, veral met verwysing na die goeie samewerking met die Silverton SAPD,” sê Andre Badenhorst, veiligheidsvoorsitter vir AfriForum se Meyerspark-tak.
“Buurtwagte is daar om hulp aan die plaaslike SAPD te bied en hierdie is ’n baie goeie voorbeeld van dié tipe samewerking wat noodsaaklik is vir ons gemeenskap se veiligheid,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng.

Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak: SMS “Meyerspark” na 45341 (R1) of e‑pos lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings