AfriForum se Meyerspark-buurtwag trek verdagte vas


AfriForum se Meyerspark-buurtwag het op 18 Oktober 2018 ’n verdagte vasgetrek ná hy tydens ’n rooftogpoging by ’n buurtwaglid se voordeur betrap is. Die buurtwaglid het die verdagte, wat met ’n waardevolle gesteelde resiesfiets op die vlug geslaan het, oor die radio beskryf en hy is ’n paar kilometer verder deur die buurtwag ingehaal. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is kort daarna as steun ontbied.

Die verdagte het die fiets langs die pad gelos en by ’n fabriek ingehardloop, waar hy in ’n elektriese heining verstrengel geraak het. Die SAPD het die verdagte op aanklag van die besit van gesteelde goedere en onwettige betreding gearresteer. Die SAPD het ook ’n dossier geopen.

“Ek wil ons lede bedank vir hul onbaatsugtige, vrywillige optrede asook die buurtwag se vinnige reaksie en puik samewerking met die SAPD,” sê André Badenhorst, voorsitter van AfriForum se Meyerspark-tak.

Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak: SMS “Meyerspark” na 45341 (R1) of stuur ’n e-pos aan lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings