AfriForum se Middelburg-buurtwag stuit grondgrypers


AfriForum se Middelburg-buurtwag het op 1 September 2018 gesorg dat persone wat grond in Middelburg beset het, dié perseel verlaat. Gemeenskapslede het AfriForum van die grondgrype in kennis gestel, waarna die tak dadelik opgetree het.

“Die AfriForum-tak het die grondeienaar gekontak en was op pad om ’n saak van betreding by die SAPD oop te maak, maar aangesien die grondeienaar in Pretoria woon, kon die saak nie geopen word nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

AfriForum se Middelburg-buurtwag is na die toneel ontbied en het die betreders in kennis gestel dat hulle besig was om die eienaar se grond onwettig te betree. Dit het daartoe gelei dat die betreders die grond verlaat het.

“AfriForum doen ’n beroep op die publiek om te verseker dat, sou hulle grond besit, maar nie in die omgewing woon nie, iemand aangewys word om die grond te moniteer en te verseker dat gevalle soos dié onmiddellik hanteer word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Raak betrokke om veiligheid in jou gemeenskap op te skerp: SMS “Middelburg” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings