|

AfriForum se Middelburg-tak en -buurtwag help ouetehuis ná brand

AfriForum se tak en buurtwag in Middelburg het onlangs gehelp nadat die SAVF-tehuis vir bejaardes op dié dorp onder ’n brand deurgeloop het.

Die brand het op 19 September in die linne- en waskamer gewoed, wat tot gevolg gehad het dat die wasmasjiene, strykysters en tuimeldroërs verwoes is.

“Toe ons die nuus ontvang, het die tak en buurtwag onmiddellik besluit om hulp aan te bied. Ons weet dit is ’n baie moeilike tyd vir almal te midde van die COVID-19-pandemie. Wasgoed moet daagliks by die tehuis gewas word om sodoende die beste sorg aan die bejaardes te verskaf,” sê Wayne Hill, voorsitter van AfriForum se tak en buurtwag in Middelburg.

Op 23 September het dié tak drie outomatiese wasmasjiene aan die tehuis geskenk.

“Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien dat baie van ons AfriForum-takke en -buurtwagte na bejaardes omsien in ’n tyd wanneer dit werklik nodig is,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die tak moedig gemeenskapslede aan om by bestaande strukture soos hierdie betrokke te raak om mekaar te ondersteun. Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke: SMS “Middelburg” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings