AfriForum se Middelburg-tak plant bome


Die AfriForum-tak in Middelburg het drie bome en vyf struike by skole en tehuise in dié dorp geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantinisiatief.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het die burgerregte-organisasie vanjaar landswyd reeds meer as 3 000 bome geplant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Carien van Wyk van AfriForum se Middelburg-tak.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Middelburg onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Van Wyk.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.
Raak vandag betrokke: SMS “Middelburg” na 45350.

Soortgelyke plasings