|

AfriForum se Modjadjiskloof-plaaswag help om huisbrand te blus

Lede van AfriForum se Modjadjiskloof-plaaswag het die plaaslike brandweer op 25 Augustus 2020 gehelp om ’n brand by ’n grasdakhuis in Duiwelskloof te blus.

Die plaaswag het omstreeks 14:00 berig ontvang dat die huis aan die brand is, en plaaswaglede is dadelik saam met die brandweer en ander gemeenskapslede na die huis ontplooi. Die brand is ongeveer 23:00 onder beheer gebring. Die huis se dak en eerste vloer is grotendeels tydens die brand vernietig, maar die brandbestryders kon verhoed dat die vlamme verder versprei. Die brandweer het die brand deur die nag gemoniteer en was teen 12:00 (26 Augustus) steeds besig om die gras van die dak af te krap om die smeulende kole te blus.

Die brand het vermoedelik ontstaan weens die veld oorkant die straat wat vroeër gebrand en moontlik met ’n warrelwind na die grasdakhuis gespring het.

Riaan Swart, voorsitter van AfriForum se Modjadjiskloof-plaaswag, bedank almal wat gehelp het. Hy maan die gemeenskap om paraat en versigtig te wees. “Ons is nou op die kruin van die brandseisoen en moet ekstra versigtig wees om nie wegholbrande te skep nie. Indien jy enige rook of brande opmerk, meld dit dadelik by die AfriForum-plaaswag, die brandweer en die Brandbeskermingsvereniging aan.”

“Die veeldoeligheid en waarde van die AfriForum-plaaswag is weer eens bewys. Plaaswaglede het onmiddellik gereageer toe die nood daar is; ons neem eienaarskap van ons veiligheid deur onmiddellike aksie. Vir hierdie plaaswag is hul veilige en voorspoedige voortbestaan nie ’n teoretiese saak wat gedebatteer word nie: Hulle is reeds besig om daaraan te bou,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) as jy by ’n AfriForum-plaas- of buurtwag betrokke wil raak. Jy kan ook “Noordstreek” na 45350 SMS (R1).

Soortgelyke plasings