| |

AfriForum se Mooirivier-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

Die AfriForum-buurtwagte in Bothaville, Ellaton, Hartbeesfontein, Orkney, Parys, Potchefstroom, Sasolburg, Stilfontein en Ventersdorp se plaas- en buurtwagte het op 18 September 2020 aan dié organisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is tussen 18:00 en 06:00 uitgevoer in samewerking met die SAPD en verskeie gemeenskapslede, sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies uit die onderskeie dorpe.

Die Mooirivier-buurtwagte se betrokkenheid by die nasionale patrollie was ’n reusesukses. Altesaam 235 AfriForum-patrolleerders en 101 patolleerders van ander instansies soos die SAPD en sekuriteitsmaatskappye het bykans 6 680 km in 124 voertuie afgelê. Meer as 39 voorvalle is tydens die patrollie aangemeld, maar was nie ernstig nie.

“Die Mooirivier-buurtwagte sal aanhou om veiligheidskwessies in dorpe aan te pak om sigbaarheid in dié streek te verbeter. Veiligheid raak toenemend belangrik in elke gemeenskap en die AfriForum-takke beskou dit as ’n baie ernstige saak. Doeltreffende samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD en ander rolspelers help ons om gemeenskapsveiligheid te verseker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Wees deel van die oplossing en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en ‑buurtwag betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (vir die Vrystaat) of 45351 (vir Noordwes). Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings