AfriForum se Moot-buurtwag hou sigbaarheidspatrollies


AfriForum se Moot-buurtwag het op 22 en 24 Junie 2019 sigbaarheidspatrollies in die Moot gehou waartydens buurtwaglede bymekaargekom het om hul area te beveilig. Die doel van die patrollies is om meer sigbaar in die area te wees en om die oë en ore van die polisie te wees.

Volgens Werner Schultz, AfriForum se Moot-buurtwagvoorsitter, was die patrollies baie suksesvol. “Ons het die patrollies gehou om dit vir kwaaddoeners wat dwelms in die area wil verkoop so moeilik as moontlik te maak. Ons weet dat daar gereeld mense is wat onwettighede doen in die omgewings waar ons gepatrolleer het. Ons wil hiermee ’n sterk boodskap uitstuur dat ons gemeenskap dit nie gaan duld nie.”
Schultz sê ook die buurtwag is gestig om sowel die gemeenskap as die polisie in hul stryd teen misdaad by te staan.

“Dit is ons reg as gemeenskap om in ’n veilige omgewing te woon. Dit is ook ons plig as gemeenskap om te verseker dat ongewensde elemente nie ons area binnekom nie. Ons bly steeds die oë en ore van die polisie en deur sigbaar te wees, ontsê ons die kriminele in die gebied.”

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, moedig gemeenskapslede aan om by bestaande strukture betrokke te raak om so ’n positiewe verskil in die omgewing te maak.

“Die gemeenskap moet vir hul eie veiligheid verantwoordelikheid neem. AfriForum poog ook deurentyd om saam met ander instansies en organisasies te werk om ’n gesamentlike doel, naamlik veiligheid, te bereik. Dit is belangrik dat mense by die strukture betrokke raak om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is,” sê Grobbelaar.

AfriForum se Moot-buurtwag sal met soortgelyke aksies aanhou en nooi graag die gemeenskap uit om betrokke te raak. Raak vandag nog by jou plaaslike buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings