|

AfriForum se Moot-tak skerp veiligheid op

 Die AfriForum-tak in die Pretoriase Moot het op 17 Augustus 2019 in samewerking met die organisasie se buurtwagte en gemeenskapslede die palissadeheining langs die treinspoor in die Moot herstel. Dié aksie het plaasgevind nadat die Oos-Moot- en Moot-buurtwag op 25 Julie vanjaar aan voetpatrollies langs die treinspoor deelgeneem het. Die stuk treinspoor tussen die Gezina- en Queenswood-stasie is gepatrolleer om probleme te identifiseer en daar is opgemerk dat gedeeltes van die palissadeheining gebreek is, wat maklike ontsnappingsroetes aan misdadigers bied.

Volgens Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-buurtwag, het die buurtwag dié aksie aangepak om die gemeenskap te help in hul stryd teen misdaad. “Die gebreekte palissadeheining langs die treinspoor dien as ’n ontsnappingsroete vir misdadigers in ons gemeenskap. Dit is ’n groot bekommernis vir inwoners en daarom het ons begin om die heining self reg te maak.”

Die Moot-tak, die gemeenskap en buurtwaglede het gedeeltes van die palissadeheining wat oopgebreek en gebuig is, weer vasgesweis. “Ons plan is om dit so moeilik as moontlik vir misdadigers te maak om ons gebied binne te kom en ook weer te verlaat. Ons as gemeenskap het die reg tot ’n veilige omgewing en daarom sal ons voortgaan om soortgelyke aksies in ons gebied aan te pak wat ’n positiewe verskil maak,” sê Schultz.

Gerhard Hildebrand, voorsitter van AfriForum se Moot-tak, sê hoewel hierdie slegs ’n druppel aan die emmer is, dra dit steeds by tot bewusmaking en verbetering van veiligheid in die gebied. Die tak en buurtwag sal voortgaan om veiligheid in die gebied op te skerp in samewerking met die gemeenskap. “AfriForum is hier om ’n verskil te maak deur gemeenskappe by te staan en as oë en ore op te tree om die SAPD te ondersteun. Indien ons probleme in die gemeenskap sien wat ons lede se veiligheid benadeel, sal ons dit aanpak.”

Schultz moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by soortgelyke aksies in die gemeenskap wat tot die welstand van inwoners bydra. “Ek wil graag inwoners van die Moot, asook die Riviera Huiseienaars-, Inwoners- en Besigheidsorganisasie (Rhibo) bedank vir hul hulp tydens die aksie. Ons sal graag wil hê dat die res van die gemeenskap ook by die aksies betrokke raak om ’n positiewe verkil te maak.”

Raak vandag nog aktief by AfriForum se Moot-tak betrokke: SMS die woord “Moot” na 45341 (R1) en dra by tot die positiewe verskil.

Soortgelyke plasings