AfriForum se Moot-tak stel noodwaterpunte bekend

AfriForum se Moot-tak het op 16 Januarie 2020 amptelik hul eerste noodwaterpunt vir gebruik geopen by Laerskool Pierneef  in Villieria, Pretoria. Dié projek het ontstaan weens die feit dat die Tshwane Metro meer gereeld waterbeperkings instel, wat die gemeenskap se toegang tot lopende water beperk. Die doel van hierdie volhoubare projek is om water aan die gemeenskap te verskaf in tye van nood.

Twee tenks met ’n kapasiteit van 5 kiloliter elk word met boorgatwater gevul en is beskikbaar vir die hele gemeenskap. Hierdie water kan vir drinkwater en ander huishoudelike gebruike benut word. Dit neem ongeveer 16 sekondes om ’n 20 liter emmer vol te maak.

“Hierdie projek se sukses en volhoubaarheid is afhanklik van die hele gemeenskap se betrokkenheid. Ons vra dat die gemeenskap in die omgewing wat tot die projek kan bydra – veral wonings met boorgate wat in tye van nood water kan verskaf – AfriForum se Moot-tak sal kontak,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder van Groter Pretoria.

Die AfriForum Moot-tak se ander noodwaterpunt by Innesdale-klub, Michael Brinkstraat 732, Rietfontein, behoort binnekort gereed te wees. Die tak beoog om ten minste vier sulke waterpunte voor die einde van die jaar op te rig.

Soortgelyke plasings