|

AfriForum se Moreletapark-tak verbeter buurtwagkommunikasie

Die AfriForum-tak in Moreletapark het die afgelope twee maande ’n projek aangepak om kommunikasie tussen die buurtwagte in die Welbekend-area te verbeter. Die nuwe stelsel stel die buurtwag in staat om ’n area van sowat 20 000 hektaar te dek met ’n omtrek van meer as 50 km.

Kommunikasie is ’n belangrike aspek in die stryd teen misdaad en sonder goeie kommunikasie kan ’n operasie nie suksesvol uitgevoer word nie. Die nuwe stelsel bestaan onder meer uit agt VHF basisstasie radio’s met antennas en 15 handradio’s wat op die netwerk gekoppel word.

“Tweerigtingkommunikasie is baie belangrik in vandag se tye. Beurtkrag en selfoonnetwerke wat ons gereeld in die steek laat bemoeilik ons werk, daarom is radiokommunikasie so belangrik. Dit is vinnig en doeltreffend, in ’n noodgeval soos ’n plaasaanval byvoorbeeld, is dit nie altyd moontlik om ’n selfoonboodskap te stuur nie en raak alternatiewe kommunikasie belangrik,” sê Ledge Mouton, AfriForum se taktesourier in Moreletapark.

Hierdie projek maak dit moontlik vir die buurtwag om met meeste van die boere en inwoners in die omgewing te kommunikeer en die Welbekend-buurtwag kan selfs met die Moreletapark-buurtwag kommunikeer op hierdie manier.

“AfriForum sal aanhou om ons strukture te versterk en die nodige toerusting aan hul te verskaf.  Dit is belangrik dat gemeenskappe betrokke raak by hul plaaslike strukture in die geveg teen misdaad.  Hierdie projek maak dit moontlik vir die buurtwag om veiliger patrollies uit te voer en inligting rakende verdagte optrede vinniger te versprei,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan om verskeie groot projekte gedurende die nuwe jaar aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om aan hierdie projekte deel te neem.  Besoek gerus die AfriForum-tak in Moreletapark se Facebook-blad vir meer inligting oor toekomstige projekte.

Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Moreletapark” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings