|

AFRIFORUM SE MUSINA-BUURTWAG TREK INBREKER VAS

Die AfriForum-buurtwag in Musina het in die vroeë oggendure van 21 Maart ’n inbreker in hegtenis geneem.

Die buurtwag het omstreeks 01:00 ’n noodoproep met betrekking tot ’n inbraak ontvang. Die verdagte was reeds halflyf deur die diefwering toe die inwoner se hond hom gesien en begin blaf het. Die inwoner het die buurtwag onmiddellik gekontak.

Buurtwaglede het die inwoner dadelik te hulp gesnel. Die eiendom was dig bebos en die buurtwag het stelselmatig te werk gegaan om die perseel te fynkam. Die buurtwag kon die verdagte in die erf vaskeer en het hom in hegtenis geneem. Die verdagte is aan die polisie oorhandig en die buurtwag het die slagoffer gehelp om ’n saak aanhangig te maak.

Kobus Boshoff, voorsitter van AfriForum se Musina-tak, moedig gemeenskappe aan om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem. “Sluit by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan of stig ’n buurtwag indien daar nog nie een in jou gebied is nie. AfriForum se Musina-buurtwag is ’n buurtwag wat onlangs gestig is, maar ons sien reeds die resultate. Dit is vrywilligers wat georganiseerd en gedissiplineerd saamwerk.”

“’n Gemeenskap wat om 01:00 die oggend ’n parate buurtwag het wat hulle kan skakel vir hulp, is ’n gemeenskap wat ’n kans het tot vreedsame voortbestaan. Die mate waarvolgens ons suksesvolle netwerke met ons bure bou, gaan bepaal of ons nog oor tien jaar in ’n dorp gaan kan woon al dan nie. AfriForum se Musina-tak wys vir ons dat dit gedoen kan word,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Sluit vandag nog by AfriForum se Musina-buurtwag aan: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings