| |

AFRIFORUM SE MUSINA-TAK STIG BUURTWAG

AfriForum het op 19 November ’n buurtwag in Musina gestig, waarna buurtwaglede opleiding ontvang het. Die Musina-gemeenskap het onlangs ’n AfriForum-tak gestig, wat op gemeenskapsake, plaaslike regering, kultuur, jeug en sport fokus. Die buurtwag – ’n inisiatief van die tak – fokus daarop om gemeenskapsweerbaarheid te skep deur ’n veerkragtige, paraat gemeenskap te vestig wat as die oë en ore van die polisie optree om die gemeenskap se veiligheid te bevorder.

Du Toit Uys is deur die gemeenskap as buurtwagleier verkies. Hy sal die tak se veiligheidsaspekte koördineer. Jaco Weideman, Jaco Swarts en Barry Brandt is as spanleiers verkies om Uys met die organisering en bestuur van die buurtwag te ondersteun.

Buurtwaglede het opleiding ontvang in regsaspekte vir patrolleerders, een van die 16 opleidingsmodules vir gemeenskapsveiligheid wat AfriForum vir buurtwaglede aanbied.

“Toenemende staatsverval en misdaad noodsaak die Afrikaner nou meer as ooit tevore om verantwoordelikheid vir sy eie lot aanvaar. Die buurtwag vorm deel van die groter legkaart van gemeenskapselfstandigheid. Ons glo en vertrou dat die werk van die buurtwag tot die uiteindelike selfstandigwording van ons mense sal bydra en ’n veiliger samelewing vir ons almal sal help skep,” sê Kobus Boshoff, voorsitter van AfriForum se Musina-tak.

Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die takbestuur bedank vir hul ondersteuning aan die gemeenskap. “AfriForum buurtwagte is uniek in die opsig dat hulle geïntegreer is in ’n nasionale netwerk van buurtwagte wat regshulp en opleiding ontvang, toegang tot toerusting kry, ’n finansieringsmodel het en deur ’n 24/7-beheerkamer ondersteun word. ’n Buurtwag soos die een in Musina het unieke vaardighede en kennis, en kan dus verantwoordelikheid neem vir hul toekoms.”

Raak by AfriForum in Limpopo betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings