|

AFRIFORUM SE NABOOMSPRUIT-BUURTWAG NEEM ’N VERMEENDE MOTORDIEF IN HEGTENIS

AfriForum se buurtwag in Naboomspruit het op 16 Mei 2021 ’n verdagte in verband met motordiefstal in hegtenis geneem.

’n Wit Toyota-bakkie is op die betrokke dag in Nylstroom gesteel. ’n Boodskap is uitgestuur om op die uitkyk te wees en dat die voertuig in ’n noordelike rigting na Naboomspruit beweeg het. ’n Lid van die gemeenskap het die voertuig toe in Naboomspruit by ’n vulstasie opgemerk en onmiddellik die plaaslike AfriForum-buurtwag gekontak. Die buurtwag het gereageer en bevestig dat dit wel die voertuig is wat gesteel is. Die verdagte is in hegtenis geneem en is saam met die gesteelde voertuig aan die polisie oorhandig.

Daar is later vasgestel dat die verdagte vroeër die oggend ingebreek het by ’n woonhuis in Nylstroom. Daar het die verdagte toerusting waarmee ammunisie herlaai word, selfone, ’n tablet asook dié bakkie gesteel.

“Samewerking in terme van die deel van inligting is noodsaaklik as ons misdaad suksesvol wil bekamp. Misdadigers beweeg vinniger van een dorp na ’n volgende as wat ’n mens kan bepaal wie die kontakpersoon in die volgende dorp is. Daarom is dit baie belangrik vir ons om die gemeenskap saam te trek in ’n netwerk waar ons bystand aan mekaar kan verleen en inligting kan deel,” sê Kobus van Loggerenberg, buurtwagleier van AfriForum se Naboomspruit-buurtwag.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die buurtwag bedank. “Die vinnige optrede van die buurtwag en die feit dat die gemeenskap onmiddellik die buurtwag gekontak het, wys dat die gemeenskap hierdie buurtwag vertrou en die buurtwag paraat is om bystand te lewer in geval van nood. Só help ons mekaar van buurmanne tot buurdorpe.”

Die AfriForum-tak in Naboomspruit se noodnommer is 066 159 9622. Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Naboomspruit, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings