AfriForum se Naboomspruit-tak herstel lekkasie van hooftoevoerwaterpyp

 

Die AfriForum-tak in Naboomspruit het verlede week in samewerking met die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit ’n lekkasie van die hooftoevoerwaterpyp herstel. Dié pyp pomp water vanaf die Geyserdam na die reservoir om aan die dorp se drinkwaterbehoeftes te voldoen.

Volgens Phillip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak in Naboomspruit, was daar ’n gedeelte in die pyp wat nie voldoende gelas het nie en tot gevolg gehad het dat water op ’n daaglikse basis lek. “Ons het die parte aangekoop wat nodig was om die las ten volle te herstel en die munisipaliteit het die lek reggemaak. Tot op hede is daar nog nie weer probleme met die pyp ondervind nie.”
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat die herstel van die pyp van kardinale belang was. “Water is een van die belangrikste hulpbronne wat ons het en daarom moet ons toesien dat dit reg bestuur word. AfriForum sal help waar ons kan om te verseker dat ons kosbare waterbronne nie vermors word nie.”
Van Staden het bygevoeg dat inwoners enige waterlekkasies by die munisipaliteit moet aanmeld sodat dit herstel kan word. “Ons sal graag saam met die munisipaliteit wil werk om te verseker dat alle lekkasies reggemaak word.”

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om jou reg tot water te verseker: SMS “Water” na 45340 (R1). Saam is ons sterker.

Soortgelyke plasings