AfriForum se Naboomspruit-tak verwelkom uitbetaling van watertoelaes vir herstelwerk

Nadat AfriForum in Oktober ’n adviesooreenkoms met die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit onderteken het, het die Departement van Water en Sanitasie ná volgehoue druk deur die burgerregteorganisasie onlangs ’n kennisgewing uitgereik wat aandui dat waterinfrastruktuurtoelaes aan die munisipaliteit uitbetaal moet word. Dié toelaes moet aangewend word vir herstelwerk aan die watervoorsieningsinfrastruktuur.

AfriForum verwelkom hierdie uitbetaling aan die munisipaliteit sodat die fondse aangewend kan word vir die herstel van infrastruktuur en ander water verwante projekte. Die organisasie is egter bekommerd oor die feit dat die munisipaliteit tans ’n “hangende” munisipaliteit is ná afloop van die verkiesing en dat dit die herstelwerk moontlik mag vertraag.

“AfriForum glo dat die uitbetaling ’n stap in die regte rigting is, maar ons sal die proses moniteer om seker te maak dat die fondse nie verdwyn of verkeerd aangewend word nie. AfriForum sal sy waghondrol vervul en aanhoudend druk op die plaaslike munisipaliteit toepas om te verseker dat die fondse so gou moontlik aangewend word om die verskeie waterinfrastruktuurprobleme in die dorp te herstel,” sê Lucas Bornman, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Raak betrokke by AfriForum se Naboomspruit-tak: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings