|

AfriForum se nasionale vullisterreinoudit skop af

Deur Casandra van Aswegen

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag hul nasionale vullisterreinoudit-veldtog by die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi, Gauteng, afgeskop waartydens lede van die media self die geleentheid gekry het om die terrein te oudit aan die hand van ʼn vraelys oor die minimumvereistes waaraan ʼn vullisterrein moet voldoen.

AfriForum meen min munisipaliteite kom die land se afvalregulasies na en daar is ʼn gebrek aan aanspreeklikheid vir behoorlike afvalbestuur by plaaslike owerhede. Die oudit het ten doel om die swak toestand van vullisterreine regoor Suid-Afrika uit te wys en aan te spreek.

Volgens Marcus Pawson, Afriforum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, maak die veldtog vir ’n waghond- en selfdoenfunksie voorsiening.

“Ons wil deur hierdie veldtog verseker dat die regering sy plig nakom in terme van vullisterreinwetgewing en -regulasies. Terselfdertyd wil ons gemeenskappe aanmoedig om deur selfdoenaksies self deel van die oplossing te word.”

Volgens die burgerregte-organisasie is onvoldoende afvalbestuur, die ineenstorting van infrastruktuur, korrupsie en gesondheids- en veiligheidskwessies van die hoofoorsake vir die huidige toestand van vullisterreine.

Chris Boshoff, projekkoördineerder van AfriForum, sê die swak toestand van vullisterreine hou verskeie gesondheidsimplikasies, soos die besoedeling van lug en water, vir gemeenskappe en die omgewing in.

Boshoff het beklemtoon dat die samewerking van Edna Molewa, minister van waterwese en omgewingsake, nodig is om te verseker dat vullisterreine voldoen aan art. 24 van die Grondwet wat bepaal dat landsburgers die reg tot ʼn skoon en veilige omgewing het.

“Ons beplan om ’n verslag na afloop van die projek saam te stel en ons sal munisipaliteite en privaat maatskappye wat nie aan die voorgeskrewe minimumstandaarde voldoen nie, tot verantwoording roep.”

Volgens AfriForum se nasionale vullisterreinverslag vir 2015 het sowat 50 vullisterreine nie aan die nodige regulasies voldoen nie. Boshoff meen daar kan nie vanjaar drastiese verbetering verwag word nie. “Die regering het sedert 2015 geen poging aangewend om die huidige toestand van vullisterreine te verbeter nie. Strenger wetgewing en sterker optrede is nodig om die probleem op te los.”

AfriForum sal teen Augustus die bevindinge van die oudit bekend maak.

Indien jy meen dat jou naaste vullisterein nie aan die minimumvereistes en standaarde voldoen nie, nooi AfriForum jou uit om deel te neem aan die verbetering van vullisterreine deur die volgende vraelys te voltooi en te stuur na chrisb@afriforum.co.za.

 

Vraelys oor minimumvereistes waaraan ʼn vullisterrein moet voldoen:

  • Het die stortingsterrein ʼn permit of lisensie om vullis te bestuur?
  • Wat is die lisensienommer?
  • Het die verantwoordelike owerheid ʼn afvalbestuursplan?
  • Het die owerheid ʼn regulasie oor afvalbestuur?
  • Is daar ʼn teken by die hek wat aandui watter soort afval daar gestort mag word en op watter tye storting toegelaat word?
  • Is daar toegangsbeheer by die stortingsterrein se hek?
  • Is daar veiligheidswagte by die stortingsterrein?
  • Wat is die naam van die stortingsterrein?
  • Wie is die verantwoordelike owerheid?
  • Word die toegangsroetes in stand gehou?
  • Is daar ’n behoorlike heining om die stortingsterrein wat mense en diere kan uithou?
  • Is die heining vas/heel en is dit bruikbaar?
  • Kompakteer hulle die afval daagliks en word dit met grond bedek om te voorkom dat vullis rondgewaai word?
  • Is daar enige reuke by die stortingsterrein?
  • Is daar mense wat die vullis optel?
  • Is daar tekens langs die toegangsroete wat onwettige storting verbied?
  • Is al die masjinerie in ’n werkende toestand?
  • Dra die werkers veiligheidskoene en veiligheidsklere?
  • Brand daar vure op die terrein?
  • Bestuur die owerheid klagtes en steurnisse?
  • Is daar groot volumes mediese of gevaarlike afval op die terrein?
  • Is die buffer om die terrein minstens 500 m vanaf die naaste huis?
  • Is daar besoedelde water op die terrein?
  • Is daar enige teken dat water op die terrein opdam?
  • Is daar behoorlike stormwater-infrastruktuur in ’n werkende toestand op die terrein?
  • Is daar karkasse van diere op die terrein?
  • Word enige herwinningspraktyke op die terrein toegepas?

Soortgelyke plasings