|

AfriForum sê nee vir regeringsafhanklikheid

Deur Esmarie Prinsloo 

Die herstel van slaggate en straatligte, buurtwagpatrollies vir gebiedsbeveiliging, die skoonmaak van begraafplase, parke en strate, die behandeling van besoedelde riviere en die skoonmaak van vullisterreine.

Dít is munisipale dienste, maar dienste wat agterweë bly, omdat plaaslike owerhede nie hul grondwetlike pligte uitvoer nie. Die redes hiervoor is onder meer korrupsie, kaderontplooiing, ongekwalifiseerde amptenare, wanbesteding van belastinggeld of bloot omdat munisipaliteite nie genoegsame steun van die nasionale regering ontvang om hul dorpe na behore te bedien nie.

“Gemeenskappe het die afgelope 20 jaar met regeringsamptenare vergader, briewe geskryf, protesaksies gehou en die hof genader om dienste te probeer verbeter. Hoewel daar verskeie welslae behaal is, is gemeenskapselfstandigheid die volhoubare oplossing,” sê Tiaan Esterhuizen, AfriForum se bestuurder van gemeenskapstrukture.

 

AfriForum het spesifiek vir dié doel ʼn veldtog: 10 Dae van Selfstandigheid by sy nasionale kongres in Warmbad in Limpopo bekendgestel. Dié veldtog behels die lewering van munisipale dienste deur gewone Suid-Afrikaners in 80 munisipale gebiede regoor Suid-Afrika.

“Gemeenskappe moet ʼn vermoë begin ontwikkel om hulself te kan beveilig én om dienste te kan lewer. Ons kan nie wag vir onwillige munisipaliteite nie, gemeenskappe moet pro-aktief betrokke raak. Hulle moet ʼn vermoë ontwikkel om diensleweringsprobleme wat hulle raak self die hoof te bied, sodat hulle nie meer in die regering se oë hoef te kyk nie,” sê Esterhuizen.

 

Vir AfriForum sou dit egter steeds ideaal wees as munisipaliteite wil hande vat, maar wanneer samewerking ontbreek, sal die organisasie dienste uitvoer en munisipaliteite vir die uitgawes dagvaar.

 

“Ons as gemeenskappe baklei teen die agteruitgang van reeds swak munisipale dienste, en ál uitkoms wat dit het, is om die agteruitgang te vertraag. Ons moet begin bou aan ʼn nuwe plan. Dus is hierdie ʼn groot begin vir AfriForum en die res van die land,” meen Esterhuizen.

 

Die 10 Dae van Selfstandigheid gaan tien dae van doeltreffende dorpe wees, iets wat enige Suid-Afrikaner sal verwelkom. Die wegspringdatum is 28 September en dit eindig 9 Oktober 2015, op die vooraand van die Solidariteit Beweging se toekomsberaad, wat óók selfstandigheidsinisiatiewe sal voorstaan vir die vooruitgang van die land op plaaslikeregeringsvlak. Die toekomsberaad word op 10 Oktober in Pretoria gehou.

“Na so ʼn kongres is dit altyd lekker. Daar is baie energie. Daar is ook baie werk wat vir ons voorlê, maar ons wil hê gemeenskappe moet opgewonde wees oor die projekte. Ons wil nie hê hulle moet negatief wees oor die land nie. Ons wil hê hulle moet positief wees en die uitdagings as geleenthede sien om gemeenskappe en die land in sy geheel te verbeter.”

 

 

Soortgelyke plasings