|

AfriForum se Nelspruit-tak maak parkie en groenstrook skoon

Die AfriForum-tak in Nelspruit het op 26 Januarie 2022 in samewerking met WeCare4Nelspruit die Village-parkie skoongemaak. Gedurende die dag is die gras gesny, onkruiddoder gespuit en papiere opgetel. Dié skoonmaakdag het deel gevorm van ’n groter projek om die groenstrook langs Ferreirastraat in stand te hou. Die strook was in die verlede ’n seeroog vir inwoners omdat indringerplante heeltemal oorgeneem het. Dit het ook as wegkruipplek gedien vir misdadigers en het dus ’n veiligheidsrisiko ingehou.

“Ons plan is om die groenstrook skoon en netjies te hou om te voorkom dat geen verdere kriminele aktiwiteite in die area plaasvind nie. Tot dusvêr is baie goeie vordering gemaak en ons sien uit om die groen strook heeltemal skoon en netjies te hou,” sê TJ Mare, voorsitter van WeCare4Nelspruit.

“Dit is vir ons ’n voorreg om deel te wees van die projek en om te sien hoeveel beter die Village-parkie en die groen strook in Ferreirastraat lyk. Groenstroke en parke is areas waar inwoners moet veilig voel en ons glo dat ons dit sal kan regkry met dié projek,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. AfriForum se Nelspruit tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die projek. SMS “Nelspruit” na 45340 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings