AfriForum se Nylstroom-buurtwag en SAPD voer gesamentlike aksie uit


Die AfriForum-buurtwag in Nylstroom het in samewerking met die SAPD op 7 September ’n gesamentlike aksie in dié dorp uitgevoer. Tydens hierdie buurtwagaksie is 15 mense wat onder die invloed van alkohol was gearresteer, terwyl een persoon vir die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem is. Twaalf buurtwaglede het aan die aksie deelgeneem en vier voertuie is gebruik.

Volgens Riaan Holtzhausen, voorsitter van AfriForum se Nylstroom-buurtwag, was die gesamentlike aksie ’n reusesukses en daar was goeie samewerking tussen die verskillende organisasies. “Die operasie is weer eens vir ons ’n bewys dat wanneer die gemeenskap saam staan, saam werk en die polisie ondersteun, kan ons ’n daadwerklike verskil maak. AfriForum sal graag wil voortbou op hierdie sukses en die bande tussen die buurtwag en die SAPD verder versterk.”
Holtzhausen voeg by dat gemeenskapsbetrokkenheid in Nylstroom van kardinale belang is om die dorp ’n veiliger plek vir al sy inwoners te maak. “Ons moedig graag die inwoners van Nylstroom en omliggende gebiede aan om by die bestaande veiligheidstrukture betrokke te raak.”

Sluit by die buurtwag aan deur die woord “Veiligheid” na 45340 te SMS (R1) of skakel Marie Scheepers by 071 292 0093.

Soortgelyke plasings