| |

AFRIFORUM SE NYLSTROOM-TAK VERBETER GEMEENSKAP MET #VEGENBOU-PROJEK

AfriForum se Nylstroom-tak het die afgelope naweek sy #VegEnBou-projek voltooi nadat daar onder meer veiligheidsoudits by skole gedoen is, padblokkades saam met die polisie gehou is en verskeie verbeteringe aan die dorp aangebring is.

Op 19 Mei 2021 is veiligheidsoudits by Laerskool Nylstroom, Hoërskool Nylstroom en Laerskool Eenheid gedoen. Dié oudit word by skole gedoen om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker en om seker te maak die skool het ontruimingsprosedures en noodplanne. ’n Terreininspeksie word ook tydens die oudit gedoen om swakpunte op die terrein aan die skoolbestuur uit te wys.

“Min skole kry deesdae hulp van die staat. Daar waar die staat versuim om sy pligte uit te voer sal AfriForum intree om te verseker dat gemeenskappe selfstandig kan voortbestaan,” sê James van Zyl, voorsitter van AfriForum se Nylstroom-tak.

Op die aand van 19 Mei 2021 het AfriForum se Nylstroom- en Potgietersrus-tak ’n sigbaarheidsoperasie in samewerking met die plaaslike polisie uitgevoer. Dié operasie het bestaan uit drie dele. Een span het ’n voetpatrollie gedoen in die dorp se sakekern net na sluitingstyd om te help om sekuriteit aan sake-eienaars te voorsien wat besig is om hul ondernemings toe te sluit. ’n Tweede span het saam met die polisie se Limpopo-snelwegeenheid ’n punt opgestel waar die nommerplate van voertuie wat op die R101 deur die dorp beweeg, getoets is met behulp van ’n mobiele nommerplaatherkenningskamera. Die derde span het ’n voertuigpatrollie in die woonbuurt van Nylstroom gedoen.

Op 20 Mei 2021 het die tak altesaam 40 sakkies teer gebruik om slaggate in Kerkstraat op te vul. Straatligte is ook in Boshoffstraat opgerig.

Op 21 Mei 2021 het taklede en lede van AfriForum Jeug by ’n plaaslike winkelsentrum lede gewerf om ’n petisie teen die plaaslike munisipaliteit te teken oor die rioolprobleem in die dorp. Meer as 300 mense het die petisie geteken.

“Selfdoen beteken nie alleen doen nie. Ons vorm ’n netwerk van saamwerk, nie net tussen lede nie, maar ook tussen takke en buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, wetstoepassers en ander organisasies. Die misdadiger wat vandag in Nylstroom is, is môre dalk in Naboomspruit of Potgietersrus,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

“Gemeenskappe is toenemend onder druk van die staat wat nie sy verpligtinge nakom nie. AfriForum se #VegEnBou-strategie sal dus ons gemeenskappe dra. Veg vir geregtigheid en bou vir selfstandigheid,” sê Magdèl Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap deur by die AfriForum-tak in Nylstroom aan te sluit: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings