AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Bethlehem-tak en -gemeenskap maak Pretoriuskloof en Jordaanrivier skoon

 

Die AfriForum-tak in Bethlehem het op Saterdag, 6 Oktober in samewerking met AfriForum se Bethlehem-jeugtak en die gemeenskap van dié dorp die eens pragtige Pretoriuskloof en die Jordaanrivier skoongemaak. 
Daar is ook tydens dié skoonmaakprojek Eco-tabs in die rivier gegooi. Dié produk stel gesonde bakterieë in die rivier vry, wat sal help om die rivier te rehabiliteer.
Riool word op ’n daaglikse basis in die Jordaanrivier gestort, en inwoners en besoekers aan die park kla gereeld oor die slegte reuk. Verstopte mangate word ook byna daagliks aangemeld, maar die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit het nog geen stappe gedoen om dié probleme op te los nie.

“AfriForum het reeds in Augustus 2018 en weer in Oktober ’n brief aan die munisipale bestuurder gerig oor die besoedeling van onder meer die Jordaanrivier, maar ons korrespondensie het tot dusver geen reaksie opgelewer nie. Daarom het die gemeenskap begin om nou self verantwoordelikheid te neem,” sê Isolde Laesecke, die voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings