AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Edenvale loods skoonmaakaksies


As deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog wat in Oktober 2018 afskop het dié organisasie se Edenvale-tak op 22 September die eerste van ’n aantal massaskoonmaakaksies in die middestad gehou.

Die tak het sedert Junie vanjaar verskeie kruisings geïdentifiseer wat ’n seeroog vir sowel die gemeenskap as besigheidseienaars geword het. Die hoek van Fountainweg en Centrallaan, asook die kruising op Mainweg en Bakerstraat in Eastleigh is eerste deur die tak aangepak.
Sowat 15 lede van die tak het hulp verleen om bome te snoei, bossies te verwyder, stormwaterdreine skoon te maak en vullis in die gebied op te tel. Solid Waste het tydens die aksie swartsakke verskaf en gesorg dat die randstene ook nuut oorgeverf word.

“Die tak beplan om in die nabye toekoms elke tweede week ’n groot kruising te teiken om deeglik skoon te maak. Hoewel hierdie aksies nie ’n volhoubare oplossing vir die probleem bied nie, is dit bemoedigend om te sien hoe mense op straat stilhou en self betrokke wil raak of bloot net hulle dank teenoor die taklede uitspreek,” se Linda McKenzie, ondervoorsitter van AfriForum se Edenvale-tak.
“Só ’n aksie dien as konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself moet beywer tot ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms. Die tak beplan om groot herwinningsdromme in die gebied te plaas en sodoende die gemeenskap te motiveer om die gebied skoon en netjies te hou,” sluit Peter Kingsley, voorsitter van AfriForum se Edenvale-tak, af.

Besoek www.onsdorp.co.za en gee aan AfriForum ʼn mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak en raak self ook betrokke.

Soortgelyke plasings