AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Germiston-tak loods massaskoonmaakaksie


Die AfriForum-tak in Germiston het oorlog teen die haglike toestand van die dorp verklaar en gevolglik op 17 November ’n massaskoonmaakaksie in die Elsburg-gebied van stapel gestuur. Dié aksie vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog wat daarop gemik is om probleme wat in dorpe ondervind word self op te los. Die tak het die Elsburg-stadsaal, die gebied rondom die polisiestasie en die EMPD-kantore, asook die middelman in die hoofstraat getakel.
’n Plaaslike kontrakteur het die sny van die gras behartig, terwyl taklede die vullis in die gebied opgetel het. Sowel tak- as gemeenskapslede het hulp verleen om bome te snoei, bossies te verwyder en vullis in die gebied op te tel. Tien bakkievragte vullis is uiteindelik weggery. Verder het die tak ook ’n monument wat met gras oorgroei was skoongemaak en die gebied rondom die monument netjies gemaak.

“Hoewel hierdie aksie nie ’n volhoubare oplossing vir die probleem is nie, is dit verblydend om te sien hoe mense op straat stilhou en betrokke wil raak of bloot net hulle dank teenoor die taklede uitspreek,” sê Elize Hern, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.
“Aksies soos hierdie dien as konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself moet beywer vir ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms en self betrokke moet raak om probleme aktief aan te pak. Die gemeenskap word aangemoedig om by die tak se aksies betrokke te raak,” sluit Hern af.

Besoek www.onsdorp.co.za en gee aan AfriForum ’n mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak en raak self ook betrokke.

Soortgelyke plasings