AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Kempton Park-tak vorder met volhoubare herwinningsprojek


AfriForum se Kempton Park-tak het op 29 Mei 2018 ’n langtermynherwinningsprojek in samewerking met Mould, Empower, Serve (MES) – ’n organisasie sonder winsoogmerk wat op werkskepping vir haweloses fokus – van stapel gestuur. Die projek, wat deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog uitmaak, gaan vir die volgende 12 maande aktief in Kempton Park bestuur word en toegangsbeheerde gebiede, plaaslike skole en kerke teiken.

AfriForum se Kempton Park-takbestuur het reeds in 2017 die behoefte aan ’n herwinningsprojek in dié dorp geïdentifiseer, aangesien die plaaslike vullisverwyderings­dienste drasties verswak het. Ná volgehoue vergaderings en samewerking met MES en die voorsitters van die onderskeie toegangsbeheerde gebiede, is die eerste herwinningshouer in die Van Riebeeck-landgoed geplaas. Die afgelope maand is nóg agt houers by die Kaleideo AGS-kerk in Glen Marais geplaas. Die bestuur van MES verwyder die vullis sodra die houers vol is en gebruik die inkomste wat hulle met die herwinning daarvan verdien dan vir werkskepping.

“Die houers is spesiaal esteties en omgewingsvriendelik ontwerp. Dié projek is enig in sy soort en ons hoop om hierdie selfdoeninisiatief na ander dorpe in die Oos-Rand uit te brei,” sê Gerald Britt, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje by die AfriForum-tak in Kempton Park.
“Dié herwinningsprojek is ’n uitstekende voorbeeld van gemeenskapslede en organisasies wat self daad by woord voeg en proaktief optree om hul dorpe skoner en veiliger te maak. Ons sien daarna uit om die potensiaal wat binne die volgende jaar bereik kan word dop te hou,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Dra tot ’n skoner en veiliger dorp by: SMS “Herwin” na 45342 (R1).
Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings