AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Kimberley-tak ontsmet skoolterrein


AfriForum se Kimberley-tak het op 12 Oktober 2018 die Barkly-Wes Primêre Skool se terrein skoongemaak en ontsmet ná dit vir die derder keer deur riool oorstroom is. Die projek vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog en is oorsien deur Kobus van den Berg, voorsitter van die Kimberley-tak, en Dawie Griesel, voorsitter van die gemeenskapsveiligheidportefeulje.

Die munisipale pompe breek dikwels en word nie betyds herstel nie. Dit veroorsaak riooloorstromings wat só fel is dat dit selfs in sommige klaskamers beland. Die tak het rioolreste verwyder en die terrein met behulp van die tak se nuwe vuurvegter ontsmet.

“Ons hoop dat die skool Maandag weer sal heropen en dat die leerders in ’n skoon, veilige omgewing met hul onderrig kan voortgaan,” sê Van den Berg.
“Ek is trots op die Kimberley-tak wat inisiatief geneem het om dié probleem op te los, wat nie net leerders se gesondheid in gevaar stel nie, maar ook hul basiese reg op onderrig aantas. Ons gaan beslis die probleem moniteer en die gemeenskap tot die beste van ons vermoëns bystaan,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings