AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Phalaborwa-tak maak begraafplaas skoon


Die AfriForum-tak in Phalaborwa het die afgelope week ’n projek van stapel gestuur wat die skoonmaak en opknapping van die begraafplaas in dié dorp behels het. ’n Kontrakteur is aangestel om die badkamers op te gradeer, lekkende krane reg te maak, grafte te herstel, bome te snoei en lang gras te sny.

Dié projek vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog wat daarop gemik is om probleme in dorpe self aan te pak.

“Ons het die munisipaliteit in kennis gestel dat AfriForum die begraafplaas gaan opknap en skoonmaak, maar dat hulle die heining moet herstel en toegangsbeheer moet instel sodat booswigte nie die grafte kan vandaliseer nie. Dit bly die munisipaliteit se plig om die begraafplaas in stand te hou. Hierdie projek lê die gemeenskap egter baie na aan die hart en ons weier om toe te kyk hoe die begraafplaas verwaarloos word. Ons hoop dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan ons versoeke, sodat besoekers voortdurend ’n aangename en veilige ervaring by die begraafplaas kan hê,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Raak vandag nog by dié inisiatief betrokke: SMS “Selfdoen” na 45340 (R1) en dra by tot ’n positiewe verskil in jou gemeenskap.

Soortgelyke plasings