AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Sekuriteitskameras by aftreeoord in Delmas aangebring


Ná verskeie motordiefstalpogings by die Malita-aftreeoord in Delmas – waartydens een voertuig gesteel is en talle ander se batterye gesteel is – het die Delmas Valke AfriForum se plaaslike tak om hulp genader. Fondse is beskikbaar gestel as deel van die burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog om ’n sekuriteitskamerastelsel op die aftreeoord se perseel aan te bring.
Die kameras is deur CamFX Surveillance geïnstalleer en op 4 September geaktiveer. Reeds gedurende die oggend van 5 September is die eerste noodroep ontvang en twee verdagtes is op die aftreeoord se perseel opgemerk. Die Delmas Valke se buurtwag het onmiddellik gereageer en was binne minute op die toneel saam die SAPD. Hoewel die twee verdagtes nie aangekeer is nie, is geen verdere inbrake of diefstal aangemeld nie.

“Die blydskap was baie groot onder die inwoners van die ouetehuis toe die kamerastelsel geaktiveer is, asook die wete dat ’n moontlike diefstal weens die gebruik daarvan gefnuik is,” sê Rassie Erasmus, opsigter van Malita-aftreeoord.
“Die veiligheid van ons gemeenskap en veral dié van ons kinders en senior burgers is vir ons baie belangrik en hoe groter ons ledetal, hoe meer kan ons doen,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Die tak wil graag AfriForum se plaaslike buurtwag, die Delmas Valke se buurtwag én CamFX Surveillance vir hul onderskeie bydraes bedank.
Besoek www.onsdorp.co.za en gee aan AfriForum ʼn mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak en raak self ook betrokke.
 

Soortgelyke plasings