AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Senekal-tak ontvang brandweertoerusting


Lede van AfriForum se Senekal-tak het op Saterdag, 27 Oktober 2018 die nuwe brandweertoerusting wat die tak onlangs ontvang het aan die publiek bekend gestel. Dié projek het deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog gevorm nadat die behoefte aan hierdie soort toerusting in Senekal geïdentifiseer is.

Die toerusting is danksy bydraes uit die gemeenskap aangekoop en sluit twee sleepwaens in. Die een sleepwa is spesifiek toegerus om brande te beveg, terwyl die ander as ’n waterkar dien om bykomende water by ’n brandpunt te verskaf.
Die tak beplan om twee boorgate te sink en twee Jojo-tenks, wat 30 000 liter elk kan berg, op te rig aangesien die plaaslike munisipaliteit se waterinfrastruktuur onvoldoende is om brande te blus. Senekal gaan ook sporadiese tydperke onder watertekorte gebuk en suksesvolle brandbestryding is daarom soms ’n uitdaging.
Vyf volledige stelle brandweeruitrustings is beskikbaar vir vrywilligers wat met brandbestryding wil help. Christo Janse van Vuuren, ’n opgeleide brandweerman, en Jan de Villiers, Senekal Landbou se brandbeampte, het die taklede touwys gemaak oor hoe dié toerusting gebruik word.

“AfriForum se Senekal-tak het met die aankope van hul nuwe toerusting verseker dat die dorp se brandbestrydingsvermoë volhoubaar is, wat tot voordeel van al die inwoners aangewend kan word,” sê Mike Odendaal, voorsitter van AfriForum se Senekal-tak.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings