AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Tzaneen-tak vervang stoptekens


AfriForum se Tzaneen-tak het op 8 Oktober vyf nuwe stoptekens aangekoop en aan die munisipaliteit se verkeersdepartement oorhandig. Die projek vorm deel van die burgerregte-organisasie se #Ons dorp-veldtog, wat daarop gemik is om probleme in dorpe self op te los.

Die verkeersdepartement beplan om dié nuwe tekens by verskeie kruisings in die dorp op te rig waar tekens vermis word.

Volgens Pieter Venter, voorsitter van AfriForum se Tzaneen-tak, word daar beweer dat verkeerstekens gesteel en vir skrootmetaal verkoop word. “Die veiligheid van ons dorp se motoriste en voetgangers is vir ons baie belangrik. Vermiste stoptekens by kruisings kan groot ongelukke veroorsaak en daarom het ons die inisiatief geneem om in samewerking met die verkeersdepartement dié stoptekens te vervang.”

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings