|

AfriForum se Oos- en Wes-Kaapse takke woon Streeksberaad van Hoop by

AfriForum se takbesture in die suidstreek het die afgelope naweek die burgerregteorganisasie se Streeksberaad van Hoop in Stellenbosch bygewoon. Die doel van dié beraad was om in samewerking met al die AfriForum-takbestuurslede in die Suid-, Oos- en Wes-Kaap aan praktiese planne vir die toekoms te werk, asook om almal op hoogte te bring van die jongste verwikkelinge binne die organisasie.

Die tema vir vanjaar se beraad was #VegEnBou. Nagenoeg 80 bestuurslede van die suidstreek het dit bygewoon.

Verskeie sprekers het AfriForum se visie vir die toekoms gedeel en voorleggings is tydens wegbreeksessies gedoen. Die takbestuurslede kon tydens hierdie sessies vrae vra en insette lewer rakende plaaslike selfbestuur, die strategie rondom konsentrasie, gemeenskapsveiligheid en die toekoms van ons kinders.

“Dit is ’n riem onder die hart dat so baie vrywilligers, veiligheidspanne en ander betrokkenes bereid is om hul tyd af te staan om praktiese oplossings te bedink wat ’n daadwerklike verskil in Suid-Afrika maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het bygevoeg dat AfriForum se snelle groei in ledetal ’n bewys is van die impak van die organisasie se selfdoenstrategie. “AfriForum se ledetal het pas die 230 000-kerf bereik. Dit maak ons die grootste burgerregteorganisasie in Afrika.”

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, gee in hierdie video ’n oorsig oor die beraad:

https://afriforum.co.za/afriforum-streekberaad-beklemtoon-belangrikheid-van-vrywilligers/

Raak vandag nog in jou gemeenskap betrokke: SMS “Skep hoop” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings