AfriForum se Oos-moot Buurtwag behaal sukses


AfriForum se Oos-moot Buurtwag het op Woensdagoggend 26 Junie 2019 drie bossiekappers teruggevind ná dit vermoedelik in die vroeë oggendure gesteel is. Die buurtwag het die verdagte tydens ’n patrollie gewaar en hom met nagsigapparaat dopgehou ná hulle onraad vermoed het. KPS Sekuriteit is in kennis gestel en die twee organisasies het saamgewerk om die verdagte te probeer vastrek. Ongelukkig het die verdagte in ’n stormwaterpyp ontsnap, maar hy het die gesteelde goedere hier laat val.

Volgens Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot Buurtwag, was die operasie ’n reusesukses, te danke aan goeie samewerking tussen verskillende organisasies.

“Dié operasie is vir ons weer eens ’n bewys dat die gemeenskap ’n daadwerklike verskil kan maak wanneer ons saamstaan en saamwerk. AfriForum sal graag op hierdie sukses voortbou om die bande tussen die buurtwag, sekuriteitsmaatskappye en natuurlik die polisie versterk,” sê Opperman.

Opperman sê ook dat die buurtwag gestig is om die gemeenskap by te staan en die polisie in hul stryd teen misdaad te ondersteun.

“Dit is ons reg as gemeenskap om in ’n veilige omgewing te woon. Dit is ook ons plig as gemeenskap om te verseker dat misdaad in ons omgewing ontmoedig word. Ons bly steeds die oë en ore van die polisie en deur sigbaar te wees, ontsê ons kriminele ons omgewing.”

Raak vandag aktief by die buurtwag betrokke: SMS die woord “Oos-Moot” na 45341 (R1) of stuur ’n e-pos na Andries Opperman by oosmootbuurtwagaf@gmail.com.

Soortgelyke plasings